DIE HALFGEDROOMDE DROOM
My lot is
dat ek lief is
vir ‘n halfgedroomde droom
maar nie droom genoeg
om net droom alleen
sonder vel en streel
te wees nie
my droom het eetbare oë
en ‘n mond met glimlag boë
wat my ongetoë nader wink
En in my slaap
of slaap ek nie ?
ontdek ek die halfgedroomde droom
en droom haar klaar
deur kleur en klank
van liefhê en begeer
in haar mond en oog
te plant
God het onraad vermoed
en haar nader geroep
die halfgedroomde droom
half deur hom
en heel deur my geskep
om haar klaar te maak
maar gevind
dat sy wetend naak en nie aleen is nie
en vrugte eet by ‘n boom
wat dra aan die onnoembare droom
23 Maart 1987
KLEIN NAG VAN MONDE
Kleiner nag van kruis en kerse
begin toe hy haar
met ‘n oopmond kus
Die begin en einde
is weer wyn en brood
maagdelike monde
proe wit
proe wit
soos wyn
En eet van die brood van sy lyf
Lippe sidder en weerstand kwyn
Wyn is die gloed van haar wange
En dieprooi die inbreek in haar lyf
Brood breek wyn
versigtig oop
die poele van haar oë loop
oor in die bekers van sy mond
dorstige lippe
drink diep
drink diep
soos tiep
en verdwaal in die oase van haar lyf
hande keer tevergeefs
wyn versag bevreesde harte
en brood in water is week soos wolke wat skeur
lank na hy slaap
lê sy en wonder
waarom so alleen
terwyl hy hier naby haar
raakbaar,
diep
en rustig asemhaal
25 Mei 1987
BED VAN “N GRANAAT
Klim in my mond in
Heel soos jy is
En glip verby my tong verby
Om geur op geur te wees
Wat dartel op my keel
Se geplaveide stoep
Wees aanvanklik vingerlekdiep
Maar diep genoeg
Om by ervaar
Verruk en
Vrees
Verby te gly
Sodat ek jou
nat en gladde lyf
verruklik sag
op my tongskyf kan voel dryf
1 September 1986
KOKON
Laat daardie nag, Engel
breek my hande verstrengel
uit die engte
van jou hare
terwyl die maan vlak verdrink
in die vlamme van ‘n kaggelvuur
My vingerpunte loop oor
tot stom en smeek gebede
om jou oorgawe
totdat die halstarige knoop losgly
tussen my vingers
wat bewend soos wasige vlerke
uitbroei uit die breek van jou bloes
en ek en jy
eensklaps
eenvlugtig
‘n vlinder word
31 julie 1987
(later jare
terwyl jy slaap
lê ek en wonder
oor die vlug van die vlees
wat so kortstondig is
nou lê jy as kokon
alleen op die rand van ons bed
en ek verstreur myself
met uitgebroei
maar stomp gestoeide vlerke
wat ek nes destyds
steeds nie alleen wil sprei)
NA ANALOGIE VAN “N ANEMOON
Nou begeer ek bloot
die diepsee van jou lyf
om weg te dryf
op die stroom daarvan
jou bene is die branders
van my eie oseaan
wat Eb en keer
maar tog uiteindelik oopgaan
tot die ritmiese wieg van seewier
wat vleg en vloei
onder die vloed van my vel
en word jy die anemoon
wat die prooi van my lyf
in jou diepsee intrek
vry, sonder wrywing en glad
dieper in die dieptes
van begeer
na ‘n onderwaterwêreld
van skrefies oë
later lê ek
met oop oë en staar
terwyl jy (die keer)
rustig slaap en droom, ‘n geslote anemoon
en wonder of jy my ooit lief het
of maar net bloot beloon
9 September 1985
WEER EDEN
Die eerste dag
Daar is die geritsel van blare
in die tuin van haar lyf
toe sy oë haar
die eerste keer ontdek
met kykers wat kole son
en louter lig is, loop hy
oor die hooglande van haar lyf
met net ‘n vae vermoede van die wonders
wat soos ruwwe branders
in haar kuile klots
En toe sy hande hare raak
en die lyne van haar lippe natrek
voel hy verbaas
die vloed van sout en seëwier
soos dreungolwe
in sy eie lyf opstaan
Die eerste nag
Haar mond is ‘n opkomende maan
in die berge van sy bors
en haar lippe die wegwysers
wat sy ontdekkende vingers
in eb en vloed
dig teen die stam van haar hart aflei
tot daar waar hy die lou vrugte
van haar lyf
soos die begin
van verbode
kennis
met toe
maar verrukte oë eet
13 November 1991
HOENDER FIBROOM
Spesifiek fisiek, ‘n fibroom
Klim die tinteling
Uit jou lyf
En glip, galop
Malkop
Bo op
My
om in klein kasteeltjies
lekkerkry
onder my vel
te kom gedy.
5 Mei 1986
DEJA VU
Agge nee, sê ek, moet ons weer
langs die see gaan stap?
Hoekom nie, sê sy, ons het nog nooit
Maar natuurlik het ons al, ons spore
lê dan oral op die nat seesand
Ag kom sê sy, jy verbeel jou net
Ek ken jou skaars
Nou goed, okay, sê ek, maar belowe eers
dat ons nie weer dieselfde pad sal loop
of by dieselfde duin sal dut
waar ons altyd sit
om mekaar se natgesee-de lywe
droog te vrywe
nie
Ag kom nou, sê sy, jy droom te veel
Nee, belowe eers, sê ek, sê okay
Anders gaan ek dit als
weer van voor af oor
in gedigte moet bely
Oraait sê sy, Kom!
18 September 1986
JALOESIE
Toe ek aan jou dink
God vergewe my,
sien ek jou naakte liggaam
en ontblote siel
Kyk, ek sien ‘n man
wat jou liefkoos
en wilde verrukking
in jou lende bring
maar net so laat
Verwoed
kyk ek vas
in die oë van die een
en sien
God vergewe my,
Dis ek !
24 Mei 1985
TWEE DUIWE
Ek stuur
vir jou
twee duiwe
my Lief,
Kyk goed hoe hul hulde
voor jou voete bring
en vlerksleep om my ontwil
Kyk na die smeking en liefde
wat hul in hul oë dra
voel die hartstog in hul vlerke klap,
en weet, dit behoort aan my
Neem hul, my Lief
en offer hul weer
aan die groot blou lug
Want ons kan nooit
ooit weer
ten volle
aan mekaar behoort nie
14 Augustus 1985
“if you love something, set it free…”
No comments:
Post a Comment