BEGIN EN EINDE
Drieankerbaaidagbreek
Drieankerbaaidood
Styg jou bitter-bessie-son finaal
En draai jy vir laas
Op die troebel paadjies
Van jou woorde af
Drieankerbaaibranders
Drieankerbaaibang
Stap jou voete ‘n vreemde kus tegemoed;
Die see hou sy asem in
Die wind gaan uit eerbied lê
Die meeue draai bedroef hul rug
Die kreet van 19 Julie
Is beide klank van lewe en dood
Die waters wat breek
Breek ter wille van geboorte
En ter wille van dood
Wie, o wie, bly oor
Om jou dood te wreek ?
Drieankerbaaieinde
Vredendalbegin
Sterf jy
Op 19 Julie
En word ek vlees
Om negentien jaar laar
Verdere verse
Vir jou dennebospad te wees
En nou
Na hierdie onthullings
En voortgesette vrese
Met reeds gestorte trane
Sal dit weer so wees
Dat die wat dood is
Lewe
En die wat lewe
eens reeds gesterf het
Alles weer gekring:
Geboorte
Lewe
Dood
Verrot
Grond groei en bot
Weer lewe
In die bundels Dennebosbome van onthou
9 September 1986
Ingrid Jonker sterf op 19 Julie te Drieankerbaai naby Kaapstad
Op dieselfde dag is die digter van hierdie verse gebore
WEERBARSTIGE SPLEET
Mond
holt wat hang
waar woorde woon
herhaal hardop
die wonde
van my lyf.
Lip
onbesnede lyn wat loop
waar weerbarstige splete
roer en lewe
bewe klank
wat woorde word
Mond en lip
voltooide kring
pluk ek klein
verrukte woorde
van jou lyf:
lyf wat lewe is
11 September 1987
OORRYP/
Woordvrot
met die dae
soos son
soos saad
soos groei
in my lyf
word ek ryp
maar nie ryp
soos ‘n vrug ryp word nie
nie ryk en sag en son nie
maar ryp soos klei
klei wat kluite is
en klippe word
spier ens poeg
en tong wat pit is
lê bevrug en uitgeswel
in die mondskag
en wag
en wag
dat woede woorde word
wat soos wande in oorryp boorde
uit die vrug se vrut
oopbreek
om weer woorde
soos klippe
vry te laat
***
swyg:
laat slegs hulle
wie sonder sonde is
praat
en glashuise bou
6 September 1987
TALENT
Om uit joernalistieke oorde
wit en swart woorde
as die oë van ‘n vriend te herken
en steeds drie maal te verloën
is bloot die plant van klipheuwelkruise
op die agterkante van koerante
as die daad van verraad
maar om later kop na onder
oor ou gedigte te wonder
en inkspykers te bevraagteken
wat eens soos skreeuende wigte
tussen gewrigte van vriende en hul vergesigte
ingedryf het
is bloot ‘n wonder van wonde
want alles lyk anders
as dit bekroon of verloën is
doringkrone en kruise
soos letterkundepryse
verander moeë en uitgediende profete
in ontsterflike en konrete
bewyse van uitverkore reise
31 mei 1987
TER PERSE
As ek dan ‘n slag
met wooorde
en tale van mense en engele het
maar ek verklaar nie jou liefde nie
is ook ek skuldig
aan hierdie klag
van verbode gedrag:
ook net 'n klinkende met tale
en geraasmakende met simbale
want ek bly doelbewus
simbole en vokale
leidrade in geheime tale
leidrade in geheime tale
as perverse versteekte verhale
opteken in ‘n boek
alewiglik opsoek
na kodes en gene DNA-gedruk op 'n doek...
alewiglik opsoek
na kodes en gene DNA-gedruk op 'n doek...
Want ek het gister weer geskryf
"sy lief my lyf"
30 Mei 1987
WAANHEID
Is dit waar ?
Hierdie verhaal
wat ek uit eie lyf vertaal
Ek twyfel nie
Ek weet dit is
‘n waan
‘n Kaarthuis is ‘n swak
maar minder seerkry huis
as hierdie potlak
van aangeplakte klei
waarin ek en my drome moet bly
dus is dit Waar
dat hierdie huis
van skyf en taal
die rigterskaal
van swak vertaal
en onbehaalde drome is
6 Junie 1987
SENSUUR
Die verkragter
daar agter
Die sensuurtralies van verdagting
Spreek en skryf al sagter
Vergeefs opsoek na versagting
Opdat hierdie klag van die verdagting
‘n klug is
wat die tug
van die sameskewing
al verder verdig.
Maar die regter
is ‘n woord AWB vegter
vir die regte
van drome en volke
om blank en al hegter
ongedroom te bly
Dus skuldig
soos gehuldi
deur die hoeders van die volk
wat uit howe en sinode
en van agter Aga stowe
die sensuur van bundels
as doodstraf voltrek
Die enigste straf
vir die wat daarna trag
om met minderjarige woorde
vrydenke van drome
gesigte
in gedigte te gee
is om ewig ongelees te bly
4 Mei 1987
BOEKBESOEK
Kyk wie stop
Weer voor my deur en kop
Dis woorde:
Verbeel
Verbeel
Hul kom in sonder klop
En sit hier
opgestop
Te veel
Te veel
En verlei my om gedigte te skryf
Wat oë laat verstyf
En kennisse verdryf
Verveel
Verveel
Ek sit alleen en onverstaan
Soms met lag en soms met traan
Ten minste het ek probeer en
Gedeel
Gedeel
4 Junie 1987
SPIRITUS GLOSSA
En net sodra ek dink
dat ek niks meer het
om te sê of te bied
kom gedagtes en maak my tong
te akkuut en nuut
om net gevangene
van spier en spoeg en geen
alleen te wees
En staan dit op uit slaap
en breek my mond soos graftes oop
om herrese woorde helder
uit klip en kelder
van verstand en weerstand
vry te laat
en weer ter verbeelding
te laat vaar
19 Junie 1987
STENIG
Gaan jullle weer klippe optel
nou dat nog ‘n boek
vlees in jul afwagtende
weegende hande
geword het
want net soos
alle profete
van vroeër
het ook hierdie woorde
nie gekom
om te sê
wat julle wou hoor nie
No comments:
Post a Comment