DIE ONDROOMBARE DROOM
Jy bly nou selfs
in my drome
net ‘n droom
wat ongedroom wil bly
Asof die ondroombare droom
van ons liefde
te veel probeer droom is
om nou selfs
ten minste net maar
droom te wees
23 Maart 1987
MELKWEGBED
Die god wat ek snags
in jou afwesigheid
Aanbid
is ‘n melkweg bed
geskape na jou stil gelykenis
Vingers kom krom en kniel
voor die voorhangsel
wat roer en lewe
groei en god word
in die ewige verlang na jou
Kaalhandsibstitute
word tempelprostitute
wat bak buk
en wit jasmyne wikkel
uit my oorwinterlyf
9 Maart 1985
SONEKLIPS
Ek voel ‘n sysag skaduwee
wat koel en vol berusting
oor my val
Ek sluit my oë
en hoop dis jy
Ek ruik jou geur en
hoor jou stem
Ek wag op jou
om uit die soneklips te tree
Die skadu glip verby
lippe bly onaangeraak
die son skyn weer verblindend voort
Dit was maar net ‘n wolk
10 November 1985
MAAN EKLIPS
Waarom laat U
dit nag vir nag beskik
dat ek die maan
en sy die wolke is
wit sy wolke wat wasig vaag
onaanraakbaar ver by my verby beweeg
verby
verby
Maar U kan nie alles keer;
met woeste wind
word maan en wolke
dalk tog een
Die maan gryp stomp
met oorhaastige vingers lomp
en breek die wit wolke tot water oop
Dit reën, maar reën verby die maan
verby
verby
die nag is stil
so stil
te stil
en stol
liefde wat van eenkant kom, is stom
is sterf
die lig word dag en
dag word son
die ander onbekende een
in wie se hande U
die wolke nou laat reën
14 Februarie 1987
HARTSEERBOS
halsooorkopbos
volvreugdebos
vole ons huppel
in jou skadupad
en wees bly
saam met ons
want ons trap
twee paar sprore
in die sand
halfmensbos
volvresebos
voel my huiwer
in jou skemerpad
en wees bevrees
saam met my
want ek soek
een paar spore
in die sand
hartseerbos
volverlangebos
voel my enkelrap
op jou duisterpad
en wees treurig
saam met my
want ek volg
twee paar spore
in die sand
Mei 1987
EEN ALLEEN
een alleen
donkermaan
stap ek aan
en verlang na jou
alleen wil wees
en wilgerween
kyk ek rond en
soek na jou
oral lê donker spore heen
winterweer
wat droewig wolk
kolk ‘n skadukol
oor my pyn onthou
wat rou oor jou
môrespoor en dieper dou
lê die vergeet-my-nie, verkluim
in die witter trap van winter
oorgroei
deur die wilde
bitterals
15 Junie 1987
VERGEET
dis koud hier,
hier beteken plek sonder jou
ek pak stene herinneringe
om die koue van jou weggaan
kleiner te kap
ek stook vure van vergeet
vergeefs, vergewe my
ek wil nie vergeet nie
wie vergeet
sterf verniet
Junie 1987
EIKEBLAARBITTER
Eikeblaarbitter
Eikeblaarbrand
Drup daar ‘n traan
Op elke pad wat ek gaan
Voetevalluister
Voetevalwag
Vrees ek die stilte
Sonder voete wat val
Pappegaaibergbegin
Pappegaaiberggroet
Val jou gesig my
In al my vreugdes op
Halsoorkophardloop
Halsoorkophuiwer
Luister my hart
Vir die stem van jou voet
Helshoogteverlate
Helshoogtevergeet
Sweef stilte
Ver bo my leed
15 September 1986
DIE ONDEKBARE DROOM
Net toe ek dink
dat alleen
die seerste soort seer is
het ek jou liefgekry
en weer verloor
die droom
het realiteit geword
uitgeswel
en blink
soos reën geskyn
ons bekers het oorgeloop
ons kon vir ewig aan ons liefde drink
maar son het gekom
sy loop geneem
dae het ‘n leeftyd geword
en toe ek jou weer sien
het die droom
in damp en stoom
verdwyn
Mei 1987
No comments:
Post a Comment